‘n Jong vrou wat haar volwaardige plek as skaapboer in die landbloubedryf uitgekerf het, skroom nie om hande vuil te maak en topgehalte skaap en- beesvleis aan kliënte te voorsien nie.
In die program Lamb Champs – Die hart en siel van skaapboerdery, wat Sondagaande op kykNET uitgesaai was, kon kykers die 31-jarige Trudine Leonard, wat boer op die plaas Belmont in die Kroonstad-distrik, leer ken.
VrystaatKroon het by Leonard gaan inloer om te hoor hoe sy die hele proses ervaar het. Sy was die enigste vroueboer wat deel van die program was. Uit die 100 skaapboere en 50 bokboere is slegs ses boere vir die program gekies.
“Aanvanklik het ek nie gedink ek staan ‘n kans nie totdat die vervaardigers my verlede jaar Julie laat weet het ek is deel van die program. Nodeloos om te sê, daar is toe behoorlik gewerskaf ter voorbereiding van die televisieopname wat in Augustus opgeneem is,” sê sy.
Die produksiespan het vir twee dae op die plaas kom kuier waar al die aspekte van haar skaapboedery verfilm is.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring en soms het alles net onwerklik gevoel. Die produkiespan was puik en Minki van der Westhuizen, aanbieder van die program, is ‘n mens met ‘n mooi en baie sagte hart.”
Leonard is gebore en getoë in Kroonstad en het aan die voormalige Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) gematrikuleer waarna sy onderwys aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer het. Sy het onderwys op die proef gestel, maar vinnig besef dat sy nie vir die beroep beskore is nie. Daarna het sy in Pretoria as fiksheidsinstrukteur begin werk en later haarself in die sakesektor bevind.
In 2019 het sy haar pa, George Leonard, genader om te vra of sy saam met hom kan boer. Haar liefde vir die natuur en diere het die beroepskeuse vanselfsprekend gemaak. Die Leonards het ‘n gemengde boedery en pa George fokus op die pekanneutboedery. Haar broer, Tal Leonard, is vir die beesboerdery verantwoordelik en ma Ronell word by die skape op die plaas ingespan.
Hulle bedryf ook ‘n volwaardige slaghuis op die plaas.
“Die vleisbestellings het gebeur nadat vriende van my in Pretoria wou weet of ek aan hulle skaapvleis kan lewer. Die bestellings het meer geword en dit het ons genoodsaak om ‘n slaghuis op die plaas op te rig. Ek glo waardetoevoegings is noodsaaklik vir die voortbestaan van enige boerdery.”
Die een ding het op die ander gelei en vandag stuur sy vleispakkies wyd en syd aan kliënte.
“My pa is my raadgewer en mentor. Hy staan altyd gereed om te help en dan praat ek nie eers van die boere in die omgewing nie. Ek is so dankbaar vir ‘n goeie ondersteuningsnetwerk.”
Haar sukses lê in haar geloof, om haarself te wees in ‘n “mans-wêreld.” Soos haar ma en sussie Nadia sê, “Trudine is vreesloos.”
As diepgelowige is sy deel van die voorsangers by die Selgemeente in Kroonstad en leef vir Dinsdagaande waar sy ‘n selgroep lei. Wanneer sy nie boer nie geniet sy stap in die natuur, draf en om saam met vriende te verkeer. Om meer oor Leonard en haar boedery en ander bedrywighede uit te vind, volg haar op sosiale media.