Dit is Vrouemaand, en ons vier weer die uniekheid van vrouwees.
Hoe dikwels sê ons nie: Jy weet ons is nou nie almal perfek nie. Dan ryg ons ’n rits verskonings uit oor hoekom ons nou nie juis perfek is nie.
Ons as vroue kan ons so maklik oor die uiterlike, of innerlike, kwel en spreek maklik negatiewe dinge oor onsself uit.
Ons Maker het ons uniek en enig in ons soort geskape. Hy beskou ons as perfek, so hoekom wil ons dan altyd ontevrede wees of ons uniekheid bevraagteken?
Is dit nie dalk tyd dat ons Spreuke 31 weer mooi gaan lees en die teks ter harte neem nie?
Daar word die vrou se lof pragtig omskryf en besing. Spreuke 31:26 sê: “ . . .as sy praat, is dit met wysheid en as sy leiding gee is dit met liefde.”
Hoe wonderlik is dit nie om te weet al voel ons soms goor en staan dalk met die verkeerde voet uit die bed op dat ons steeds uniek geskape is nie.
Vroue is van nature sterk wesens en ons kan enige uitdaging trotseer.
Ons is dapper, weet van moedhou en kophou, het baie uithouvermoë en ons het ook die vermoë om vreesloos te leef.
As jy ooit twyfel in jou belangrike rol as vrou in die samelewing, maak Spreuke 31 dan jou eie.
Mag jy altyd onthou hoe uniek jy is, ongeag wat die wêreld na jou kant toe gooi.