Die Vrystaatse Vroue-landbou-unie (VVLU) se Area 3-konferensie is in Kestell aangebied. Van links is Kate Rok (gaskunstenaar), Cindy Coetzee (president van die Suid-Afrikaanse Vroue-landbou-unie), Rocco de Villiers (gaskunstenaar), Gerda Pienaar (president van die VVLU), Hentie Scheepers (uitvoerende bestuurslid van die VVLU se area 3) en Ira le Roux (voorsitter van die VLU se Kestell-tak).Foto’s: Verskaf


Die jaarlikse Area 3-konferensie van die Vrystaatse Vroue-landbou-unie (VVLU) is op Dinsdag 15 Februarie in die NG kerk Kestell se saal aangebied.

Die VLU se Kestell-tak het lede van Bethlehem, Danielsrus, Fouriesburg, Reitz, Tweeling en Waterbron op ’n ete en vermaak trakteer.

Die konferensie se tema, “Jou hart is waar jou skat is”, is in die dekor weerspieël en deur die verrigtinge beklemtoon.

Die Oos-Vrystaatse sanger Kate Rok het die konferensie met ’n geestelike boodskap en lied geopen, en die pianis Rocco de Villiers het verder vermaak verskaf.

Presidente van die Suid-Afrikaanse Vroue-landbou-unie en die VVLU, asook die VVLU se uitvoerende bestuur, was eregaste op dié byeenkoms. Die VLU se Reitz-tak sal volgende jaar die Area 3-konferensie aanbied. Dit word vir 9 Februarie 2023 beplan.

  • Die VVLU se area-konferensies word in Februarie aangebied sodat terugvoering oor die afgelope jaar se werksaamhede en bedrywighede gegee kan word.
  • Wenners van die jaar se kompetisies ontvang ook erkenning, en verskeie eerbewyse word toegeken.

You need to be Logged In to leave a comment.