Die 33-jarige Michelle Potgieter van Kroonstad, is op Saterdag 13 September, ernstig beseer in ‘n tref-en-trap-ongeluk wat in Nashville, Tennessee, Amerika plaasgevind het. Foto:Verskaf
Michelle Potgieter Credit: Verskaf

Wat ‘n opwindende naweek in Nashville, Amerika moes wees, het vir ‘n oud-Kroonstadter in ‘n nagmerrie ontaard toe sy ernstig beseer is in ‘n tref-en-trap-ongeluk. 

Die 33-jarige Michelle Potgieter wat vir die afgelope drie jaar in Arkansas, Amerika, as ‘n H2A-werker werksaam is, is op Saterdag 13 September by ‘n voetoorgang deur ‘n motor raakgery.

Michelle en haar vriendin Thea Schultz, wat saam met haar in Arkansas werk, was vir ‘n wegbreek in Nashville, waar hulle ‘n konsert en besienswaardighede sou besoek toe die ongeluk plaasgevind het.

“Michelle het baie seer gekry. Sy het bloeding op die brein gehad, erge frakture aan haar gesig opgedoen en die dokters het selfs van haar tande agter in haar keel gekry en haar longe het platgeval,” sê haar ma, Sanet Potgieter van Kroonstad.

Die owerhede in Nashville kon daarin slaag om die vroulike bestuurder wat onder die invloed van drank was en van die toneel af weggejaag het, vas te trek. 

Michelle Potgieter en haar vriendin Thea Schultz saam met wie sy werk in Amerika werk. Foto: Verskaf

Volgens Thea was die owerhede binne minute op die toneel en Michelle is per helikopter na ‘n private hospitaal geneem. Hoewel sy op Dinsdag 16 September ontslaan is, het sy ‘n terugslag beleef en moet verdere mediese hulp ontvang. 

Michelle was ten tye van die ongeluk alleen en Thea sê sy is nie presies seker hoe die tref-en-trap-ongeluk gebeur het nie.

“Ons is opreg dankbaar vir Thea wat ons gereeld op die hoogte hou, asook Michelle se werkgewer wat seker maak dat sy goeie mediese hulp ontvang en vir ons die nuuste nuus stuur. As ‘n ouer voel jy magteloos as jy weet jou kind het jou nodig, so ons kan net dankie sê vir haar goeie ondersteuningsnetwerk in Amerika,” sê Sanet.

You need to be Logged In to leave a comment.