Vrou in video stel haar kant

Die vrou wat die afgelope week mense woedend gehad het omdat sy ’n peuter gedwing het om te eet, het op Donderdag 2 November ’n video op Facebook geplaas waarin sy haar kant van die saak stel.

Foto ter illustrasie

iStock/SolStock Credit: Getty Images

Die vrou wat die afgelope week mense woedend gehad het omdat sy ’n peuter gedwing het om te eet, het op Donderdag 2 November ’n video op Facebook geplaas waarin sy haar kant van die saak stel.

Die vrou, wat sê dat sy die kleuterskool in Kroonstad al vier jaar lank bedryf en ook die kleuterskoolhoof is, het nie die week op oproepe of teksboodskappe van Netwerk24 reageer nie.


VrystaatKroon
weerhou op regsadvies die kleuterskoolhoof, die ma, die skool en die seuntjie se naam.

’n Driejarige seuntjie se ma het onlangs ’n video op TikTok geplaas waarin gesien kan word hoe ’n vrou ’n kind dwing om by ’n kleuterskool te eet.

Die enkelma van dié kind het aan Netwerk24 gesê sy het die video gemaak omdat die vrou dit ook met ander kinders doen.

In die video kan ’n mens hoor hoe ’n vrou sê die kind sal sy kos eet “al moet sy hom resussiteer”. Die ma vra dat die vrou ophou om die seuntjie so te behandel, waarop sy antwoord “ek weet wat ek doen.”

Die kleuterskoolhoof, en volgens haar eie erkenning die vrou in die video, sê sy weet mense is kwaad vir haar en dat sy ook kwaad is vir haarself.

“Ek is bitter, bitter baie kwaad vir myself. Ek kan dit nie beskryf nie en maak nie saak wat ek gaan sê nie, ek gaan dit nie kan regstel nie.”

Sy sê sy is nie “hier vir simpatie nie”, maar om haar kant van die saak te stel.

Volgens haar het die seuntjie se ma die video geplaas nadat sy sowat twee maande as ’n assistent by die kleuterskool gewerk het. Sy beweer sy het die ma ’n paar keer aangespreek omdat haar werk nie bevredigend was nie.

Sy sê verder die ma is gedurig met haar selfoon besig en dat sy nie ’n gestremde seuntjie se doek gereeld geruil het nie.

Volgens haar wou sy die vrou afdank, maar die vrou het haar gevra om haar nog ’n kans te gee omdat sy lekker by die kleuterskool werk.

Die vrou sê verder dat sy die seuntjie gedwing het om die kos te eet omdat sy ma haar gevra het om hom te laat eet.

Sy sê sy moes van beter geweet het, maar die kind het aanhou huil, want hy wou na ’n kinderstorie kyk.

Volgens haar lyk en “klink dit tien keer erger” as wat dit was omdat die ma reg agter haar gestaan het toe sy die video gemaak het.

Die polisie in Kroonstad het gesê hulle berei ’n dossier voor en dit sal aan die direkteur van openbare vervolging gestuur word sodat dié kan besluit of die vrou vervolg moet word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.