Die organiseerders van die eerste Reuse-pampoenfees, wat Saterdag (09/04) in Vrede aangebied is, is dankbaar vir die goeie opkoms. Van links is, voor: Adrienne van Dyk en Heilene Fourie

Die pampoenkampioen van die eerste Reuse-pampoenfees, wat Saterdag (09/04) in Vrede aangebied is, is Lee-Ann van Zyl van Standerton.

Haar pampoen het 251 kg geweeg en moes met behulp van ’n vurkhyser vir die kompetisie verskuif word.

Van Zyl, wat nog nooit vantevore ’n pampoen gekweek het nie, was oorstelp van vreugde toe haar oes bo die res uitgestaan het.

Sy sê dat sy die plantwerk verlede jaar Oktober gedoen het en dat dié pampoen behoorlik gepamperlang is. Saans het sy dit met ’n kombers toegegooi om dit te beskerm.

Van Zyl se doelwit is om ’n pampoen van 1 ton te kweek.

’n Wye verskeidenheid pampoene is vir die kompetisie ingeskryf.

“Ons het 45 inskrywings van kinders ontvang, en 20 van volwassenes, en glo dat die inskrywings vir volgende jaar sal verdubbel,” sê Minette Cilliers, een van die organiseerders.

Wilma Odendaal, hoof­organiseerder, sê nadat die inperkings van die Covid-19-pandemie gelig is, het inwoners van Vrede ’n behoefte aan ’n fees en samesyn gehad – en so is die idee van die Reuse-pampoenfees gebore, waarop feesgangers aan verskeie eetgoed kon smul en selfs pampoenpitkoffie drink.

Die fees het ’n ook welkome geldelike inspuiting vir die dorp ingehou.

Die organiseerders is verheug oor die opkoms van hul eerste fees ondanks onweer.

Die span is reeds hard aan die werk om volgende jaar se fees te beplan. Hulle moedig deelnemers aan om vroegtydig pampoenpitte vir volgende jaar se kompetisie te plant.

Al die pampoene wat vir die kompetisie ingeskryf word, word opgekerf en aan liefdadigheids­organisasies geskenk.

You need to be Logged In to leave a comment.