Paasfees vier ’n vrygewige Vader wat sy enigste Seun vir ons gegee het.
Omdat ons God se kinders is, na sy beeld geskep is, moet ons ook vrygewig wees. Dan sal ons ware vreugde ervaar.
Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe het die goedheid van God, ons Verlosser, en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons kom verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van Sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee (Titus 3:3-5).
Hierdie skrifgedeelte bring perspektief op ware lewensvreugde. Vader het Jesus uit goedheid en ontferming vir ons aan die kruis laat sterf om ons skuld te betaal. Wanneer jy dié waarheid aanneem en verstaan, verander jou lewe.
Die skrif verduidelik hoe ’n lewe sonder die goedheid van God lyk. Selfsug is ’n bodemlose put. Ons begeertes heers oor ons, haat dryf ons en ons gun ander mense niks. Dit klink na ’n vreugdelose lewe vol kwaad, bitterheid en ongeluk. Jy is uitgelewer aan jou opstand en ontevredenheid oor wat die lewe aan jou doen.
Het jy al God se goedheid en ontferming aangeneem en soos Hy begin leef? Sy genade, wat Hy vrylik aan ons gee, is ons bron van vreugde.
Wanneer ons met vrygewigheid leef, word vreugde om ons en in ons vrygelaat.
Dit is waaroor Paasfees gaan.
- Els is leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.