“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: wees bly!” sê Paulus in Filippense 4:4.
Sou hy ook hierdie woorde gebruik het as hy in Suid-Afrika se gedwaal en swak bestuur, te midde waarvan beurtkrag maar net nie ophou nie, geleef het?
Wel, ek glo hy sou bly gewees het. Hy het immers dié woorde uit die tronk geskryf.
Die Griekse woord vir bly of blydskap kom 11 keer in die nuwe Testament voor. Dit word elke keer in die konteks van genade gebruik.
Met ander woorde, dít is hoe ons op genade moet reageer.
Die woord vir geluk is nie dieselfde as dié woord nie. In Engels sê ons “joy”, wat ’n ander woord as “happiness” is.
Geluk (“happiness”) hang af van omstandighede. Vreugde (“joy”) kan ervaar word ondanks jou omstandighede, omdat God ons altyd genade gee.
En nou is dit baie waar dat slegs dankbare mense in alle omstandighede vreugde kan ervaar. Hulle weet hulle verdien niks en dat alles in die lewe net genade is. Daarom is hulle vreugdevol – en bly – in voorspoedige tye, maar ook vol vreugde in moeilike tye.
Hulle sê, saam met Paulus oor die dorings in ons almal se vlees: Drie maal het ek die Here gesmeek om my te verlaat. Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” (2 Korintiërs 12:8 en 9).
Kinders van die Here kan met vreugde lewe, want die Here se genade dra ons. Hy weet wat die beste vir ons gemoed is.
Gebed
Vader, dankie dat ek weet U genade sal my vandag deurdra. Gee dat ek elke soort gebeurtenis vandag met vreugde sal hanteer. Amen.
- Els is ’n leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.