Vrektes kwel steeds

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) het ’n amptelike brief aan Thandi Modise, minister van verdediging, gerig oor die welstand van die swartwilde­beeste, rooihartbeeste en springbokke op die terrein by die skool van ingenieurs


Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) het ’n amptelike brief aan Thandi Modise, minister van verdediging, gerig oor die welstand van die swartwilde­beeste, rooihartbeeste en springbokke op die terrein by die skool van ingenieurs van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), Bossiespruit, buite Kroonstad.

Die NRDBV het op Woensdag 19 Junie aan Modise ’n brief met ’n volledige uiteensetting van die stand van sake by Bossiespruit gestuur.

Dit spruit uit die voorval verlede jaar Augustus toe ’n saak van nalatigheid en verwaarlosing van die diere hier deur bekommerde gemeenskapslede by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kroonstad ingedien is.

Verlede jaar September het VrystaatKroonberig dat gemeenskapslede weekliks vrektes van die diere aangemeld het.

Die diere het skynbaar weens oorbeweiding en ’n tekort aan voedsame weiding en kos gevrek.

Dr. Bryce Marock ’n veeartsenykundige konsultant van die NRDBV het verlede jaar bevestig dat ’n verwoestende veldbrand – benewens oorbeweiding en ’n tekort aan kos en water – van die oorsake was dat die diere buite Kroonstad dood is.

Tydens die NRDBV se ondersoek is bevind dat daar wel water vir die diere beskikbaar is en dat die SANW weens die swak veldgehalte bykomende voer en soutlek vir die diere voorsien, hoewel dit nie die probeem opgelos het nie.

Die NRDBV het bykans maandeliks met die SANW gekorrespondeer om ’n oplossing vir die probleem te vind, maar daar is tot op hede geen positiewe terugvoering ontvang nie.

Marcell Meredith, uitvoerende direkteur van die NRDBV, het in ’n brief onmiddellike terugvoering en optrede van die SANW en die minister vereis.

Volgens die SANW word tenders uitgegee aan professionele skuts om die diere uit te skiet, maar dit wil voorkom of die prosesse ook vertraag is.

Groot kommer heers ook by die NRDBV en gemeenskaplede oor genoegsame kos vir die wintersmaande.

Meredith het in die brief die minister versoek om binne sewe dae terugvoering op die skrywe te gee.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.