Matteus 10:34-39
Kyk na ons land en die wêreld, sê iemand ontevrede. Waar is die geskenk van vrede waarvan die engele so vroom in Kerfees gesing het?
Dié probleem verdiep met Jesus se woorde in Matteus 10:34: Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Is daar dan nie vrede nie? Nee, daar is, as ons Johannes 14:27 verstaan: Vrede laat Ek julle na; my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld gee nie.
Ons ontevredenheid en gebrek aan vrede is omdat ons dit verkeerd verstaan. In Matteus 10:39 verduidelik Jesus dat “as jy selfsugtig aan jou eie lewe vasklou, sal jy dit verloor. Maar as jy dit ter wille van My opoffer, sal jy werklik voluit lewe.” As ons waarlik vrede wil hê, laat ons God en die mense om ons dien. Hoe beter ek God leer ken en dienend leef, hoe minder gespanne raak ek.
Jy kan nie vrede hê as jy teen die grein van God se ontwerp leef nie. Vrede is nie ’n soetsappige gevoel of toestand nie, maar swaard opneem vir die Koning se waardes en beginsels. Vrede en veg vir reg is twee kante van dieselfde muntstuk. Vrede is orde en dissipline.
Alle mense soek vrede, maar min is bereid om die dinge te soek wat na vrede lei.
Hoe kan die Koning se waardes en beginsels jou onvrede oor die lewe se gebeure regmaak?
Gebed
Here Jesus, gee my ’n ingesteldheid wat aan vrede geboorte gee. Amen.