Vrae oor salarisse

Groot ontevredenheid heers by die Hoërskool Retief in Kestell, waar onderwysers en ander personeel in beheerliggaamsposte nie elke maand hul volle salaris op betaaldag ontvang nie.


Groot ontevredenheid heers by die Hoërskool Retief in Kestell, waar onderwysers en ander personeel in beheerliggaamsposte nie elke maand hul volle salaris op betaaldag ontvang nie.

Beheerliggaampersoneel sê dat hul kontrakte nog nie hernu is nie, en dit wil voorkom of gedeeltelike salarisbetalings hul voorland is.

Einde April het die personeel op betaaldag slegs 60% van hul salaris ontvang, waarna die res van die geld in twee paaiemente van 20% elk betaal is. Einde Mei het hulle hul volle salaris ontvang, maar moes verneem dat volle betaling teen einde Junie dalk onmoontlik kan wees.

Die Hoërskool Retief is ’n gekombi­neerde laer- en hoërskool met 1 058 leerlinge van gr. R tot gr. 12. Die skool het 48 beheerlig­gaamsposte, wat dié van onderwy­sers, koshuis­personeel, administra­tiewe personeel en studente insluit.

Die beheerliggaam en beheer­ligaampersoneel het op 26 April vergader om die ontevredenheid aan te spreek. Geen terugvoering is ná die vergadering ontvang nie. Op 9 Junie het die personeel ’n skrywe aan die beheerliggaam gerig waarin hulle hul griewe uiteengesit het.

In ’n telefoniese gesprek Vrydag (10/06) het Tseko Mokoena, voorsitter van die beheerliggaam, bevestig dat die beheerliggaam bewus is van die ontevredenheid. Hy het gesê die beheerliggaam sal met die betrokke personeel vergader om albei partye se griewe te bespreek en ’n moontlike uitkoms vir almal te vind.

Wynand Els, hoof van die Hoërskool Retief, het gesê die department van onderwys is bewus van die situasie, en dat hy nie nou kommentaar kan lewer nie.


Howard Ndaba, woordvoerder van die departement van onderwys het aan
VrystaatKroon

gesê hy sal ’n navraag rig en terugvoering gee oor die omstredenheid by die Hoërskool Retief.

You need to be Logged In to leave a comment.