Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is die eerste keer in tien jaar as die Griffon-liga se kampioen gekroon.
Voortrekker het die verdedigende kampioen van die liga, Welkom-Gimnasium, in ‘n taai eindstryd met ‘n telling van 36 – 28 op die telbord onttroon.
In ‘n naelbytwedstryd op Saterdag 3 Augustus by die Downtouch Investment-stadion in Welkom, het ondersteuners ‘n uitstekende vertoning van uitdagende en goeie skolerugby aanskou.
Dit was ‘n klipharde wedstryd waarin albei spanne van meet af aan alles in die stryd gewerp het.
Die gevolg was dat die wedstryd aanvanklik wipplank gery het. In die tweede helfte het die fisieke wyse waarop Voortrekker die kontaksituasie oorheers het, die wedstryd egter vir Voortrekker beklink.
Die aanskoulike wedstryd, was ‘n uitstekende uitstalvenster vir Griffon-rugby.
Voortrekker kon die titel nog net vier keer wen; dit is die eerste keer sedert 2014 wat hulle met dié gesogte titel spog.
Puntemakers: drieë – Dawie Fourie (2), Arnold Ras (2), Cecil Parsons en Jayden de Jesus; doelskoppe – Adriaan Bonthuys.
In die Kovsie-streekskompetisie se Shimla-liga se halfeindronde sal Voortrekker teen die Hoërskool Landboudal van Jacobsdal, wat vir die eerste keer as wenners van die Vrystaat-liga gekroon is, kragte meet.