’n Duiweboer van Kroonstad is tot voorsitter van die Noord-Vrystaat-wedvlugfederasie verkies en het ook nasionale kleure in dié sportsoort ontvang.
Nadat hy in Januarie die leisels as voorsitter oorgeneem het, het die 41-jarige Schalk Jonker in Maart op die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif-organisasie (SANPO) se gala-prysuitdeling in Gqeberha nasionale kleure ryker geword.
In die afgelope vier jaar het Jonker uitstekend presteer, en hy is drie keer as die Noord-Vrystaat se wedvlugkampioen aangewys.
Hy spog boonop met ’n rits eerbewyse op provinsiale en nasionale vlak. Sy duiwe het onder meer tweede plekke op nasionale vlak, in die afdelings vir middel- en kortpad, behaal.
Hy het ook in 2019 die eerbewys vir die beste duif in die Vrystaat ontvang.
In 2021, 2022 en 2023 het hy die eerbewys vir die Noord-Vrystaat-streek ontvang.
Dié ywerige duiweboer het as jong seun aan die sportsoort begin deelneem.
Hy het egter in die afgelope vyf jaar meer mededingend begin deelneem.
Jonker het ook reeds met groot name soos Rassie Erasmus, Vyver Krog, Danie Hattingh en Kleintjie Strydom in die sportsoort kennis gemaak.
As voorsitter wil hy die sportsoort na nuwe hoogtes neem.
Hy wil graag meer jong, ontluikende duiweboere betrek en leiding te gee. Dit is ook sy droom om meer kinders aan die sportsoort bloot te stel.
Sy seun, Gerber Jonker (13), is die afgelope vier jaar die Noord-Vrystaat- junior kampioen, en hy is in 2019 as die beste junior op nasionale vlak aangewys.
Jonker sien uit na die nuwe wedvlugseisoen, wat op Saterdag 1 Junie begin. Hy nooi almal uit om hul belangstelling hierin uit te leef.
Mense wat betrokke wil raak of meer inligting wil bekom, kan Martin Botes, sekretaris van die Noord-Vrystaat-wedvlugfederasie, by 082-941-8646 bel.