Altesaam 51 gholfspelers het onlangs aan die Motus Ford-kompetisie deelgeneem.
Dié gholfkompetisie is op Saterdag 12 Maart by die Kroonstad-buiteklub beslis.
In die A-afdeling het die spel oor 36 putjies gestrek. Joubert Breytenbach, Adriaan Geldenhuys en Franco Froneman was kort op mekaar se hakke, met Breytenbach en Froneman wat elk die eerste ronde in 76 houe voltooi het. Laasgenoemde kon egter daarin slaag om die tweede ronde met ’n telling van 71 – een onder baansyfer – af te sluit. Sy algehele telling van 147 was goed genoeg om hom met die trofee te laat wegstap, en hy is as klubkampioen gekroon.
Dit is die agtste keer dat Froneman dié prestasie behaal.
In die B-afdeling is Andries Mosterd, wat 27 putjies in 126 houe voltooi het, as algehele wenner aangewys. Biempie Searle se netto-telling van 109 was die beste in dié afdeling.
In die C-afdeling het Luigi De Crescenzo met 35 punte gewen.
Sarita Sadler het die B-afdeling vir vroue gewen en is as die klubkampioen gekroon. Sy het 27 putjies in 137 houe voltooi.
In die C-afdeling was Herna Els die vrouewenner met 139 houe.
- Aangesien afdelings deur voorgee bepaal word, het die vroue nie in die A-afdeling meegeding nie.