’n Matriekleerling aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem spog met die titel van nasionale kampioen nadat hy aan die Suid-Afrikaanse sportvereniging vir liggaamlik gestremdes (SASAPD) se atletiekbyeenkoms deelgeneem het.
Dié byeenkoms is op 20 Maart in die Germiston-stadion aangebied.
Kristiaan Klopper (18) het in gewigstoot en diskusgooi meegeding.
In laasgenoemde nommer het hy die rekord van 23,98 m na 28,21 m verbeter, en in gewigstoot van 7,84 m na 9,19 m. Dié prestasies het hom die nasionale titel van o.20-kampioen in albei nommers besorg.
“Ek is baie dankbaar vir nuwe deure wat vir my oopgemaak is,” sê Kristiaan.
“Dit was ’n ongelooflike en onbeskryflike voorreg om aan die nasionale byeenkoms deel te neem. Dit is iets wat ek vir altyd sal koester.”
Weens ’n seldsame kanker in sy regtervoet is Kristiaan se been in Mei verlede jaar geamputeer.
Vir dié sportman, wat ’n kranige rugbyspeler was, was dit ’n reuse-terugslag. Tog, danksy verskeie geldinsamelings wat deur sy skool en ander organisasies gedryf is, kon hy ’n prostese kry.
Kort daarna het hy sy sporttalent op die atletiekveld ingespan.
Sy ma, Deniela, meen Kristiaan se positiewe ingesteldheid en deursettingsvermoë het hom bo sy omstandighede laat uitstyg.
“Daarvoor is ons baie dankbaar,” sê sy.
“Ons is ongelooflik trots op hom.”