Vodka red kat se lewe

Flinkdinkende veeartse van Fouriesburg het ’n kat se lewe gered deur hom vodka in te jaag.


Flinkdinkende veeartse van Fouriesburg het ’n kat se lewe gered deur hom vodka in te jaag.

’n Baie bekommerde Jabu (7) en Reitumetse (14) Maphisa van die Mashaeng-township het op 14 Junie 2 km met Babi die kat in hul arms na die Cluny Animal Trust in Fouriesburg ge­stap.

Volgens Imogen Tarita, woordvoerder van die Cluny Animal Trust, het dié boetie en sussie hul kat, wat van nature vol fiemies is, veearts toe gevat omdat hy ’n paar dae lank glad nie geëet het nie. Hy was baie swak en kon skaars regop staan.

Tarita sê drs. Katherine Barker, Eunice Olevano en Mariska Malan het dadelik vermoed die kat is vergiftig.

“Hulle het toetse gedoen om te bepaal wat hy ingekry het. Die kat het skielik begin opgooi, en die braaksel en sy urine is getoets sodat hulle agter die kap van die byl kon kom.”

Hulle het vermoed Babi het dalk teenvriesmiddel ingekry, wat dié tyd van die jaar algemeen gebruik word in die Vrystaat, waar die temperature tot onder -5 °C daal.

“Hulle het hul diagnose met inligting op die internet vergelyk, en alles het ooreengestem. Omdat Babi vroeër opgegooi het, was die dokters oortuig hulle het dit gou genoeg gevang en kon nog behandeling toepas,” sê Tarita.

Die artse het die kat toe behandel met niks anders nie as vodka, wat hulle vinnig by die naaste drankwinkel gaan koop het.

“Hulle het vodka gebruik omdat teenvriesmiddel-vergiftiging behandel word deur etanol binneaars toe te dien.”

Babi is op ’n drup gesit wat verdunde vodka bevat het.

Op die eerste dag het hy elke ses uur ’n dosis ontvang, en vir die dae daarna elke agt uur.

Hy was agt dae by die veearts en is in hierdie tyd deurlopend gemoniteer.

Hy is op 21 Junie aan sy jong eienaars terugbesorg.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.