Vlytige vingers staan vir niks verkeerd nie

Lede van die Vrouelandbou-unie (VLU) se Kroonstad-tak het op ’n onlangse saamtrek verskeie eerbewyse vir hul besonderse handwerk ontvang.

Die Kroonstad-tak van die Vrouelandbou-unie (VLU) het op die VLU-konferensie in Parys uitgeblink. Lede van dié tak wat die konferensie bygewoon het, is van links, voor: Ina Jagga, Marié Crous, Barbara Steyn, Fransie Esterhuizen en Lynette Troskie Credit: SYSTEM

Lede van die Vrouelandbou-unie (VLU) se Kroonstad-tak het op ’n onlangse saamtrek verskeie eerbewyse vir hul besonderse handwerk ontvang.

Hulle is erken op die VLU-konferensie wat op 7 Februarie in Parys gehou is.

Lede kon hulle óf in die afdeling vir beginners inskryf, óf in die een vir gevorderde handwerkskeppers.

Lena du Preez het in die afdeling vir beginners ’n eerste plek in breiwerk, borduurwerk, masjienborduurwerk en kuns behaal, asook ’n derde plek in blommerangskikking.

Du Preez is as die algehele wenner in dié afdeling benoem.

Salome Brink het op haar beurt ’n eerste plek in preservering en ’n derde plek in gebak behaal, ook in die afdeling vir beginners.

Hanri Cilliers het in die afdeling vir gevorderde handwerkskeppers ’n eerste plek in masjienborduur­werk behaal, terwyl Amanda Hopkins in dieselfde afdeling tweede in preservering en skryfkuns was.

Fransie Esterhuizen het as gevorderde handwerkskepper ’n eerste plek in handvlyt behaal en ’n tweede plek in breiwerk.

Lynette Troskie was, ook in dié afdeling, eerste in naaldwerk, tweede in borduurwerk en derde in masjienborduurwerk.

Ina Jagga het 80% in kuns en ’n algehele derde plek in blommerangskikking behaal.

Die Kroonstad-tak is as die algehele wenner in die afdeling vir beginners, asook die afdeling vir gevorderde handwerkskeppers aangewys.

Marié Crous was die sameroeper en ook ’n beoordelaar, met Cilliers wat as die nuwe uitvoerende bestuurslid van die VLU se area 1 aangewys is.


Madli Grobbelaar

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.