Die Vroue Landbou Unie (VLU) se Koppies-tak het tydens sy maandelikse vergadering in Oktober bewusmaking van borskanker geskep deur pienk aan te trek en pienk strikkies te dra.
“Oktober is borskankerbewusdheidsmaand en ons wou klem daarop lê dat mans en vroue gereeld hul borste moet ondersoek en dat enige abnormaliteite deur ’n dokter ondersoek moet word,” sê Catrien Koekemoer van die VLU.
Tydens die vergadering wat op Woensdag 18 Oktober plaasgevind het, was René Jonker die vergadering se sameroeper. Buiten die borskanker besprekings was die tema van die vergadering “interieur”.
Natasha Smalberger het ’n praatjie gelewer oor hoe om goeie foto’s met ’n selfoon te neem en sy het verskeie wenke gedeel.
Daarna het lede geleer hoe om vinnig foto-raampies te maak en lede het die kreatiwiteit hiervan baie geniet.
Verskeie kompetisies is ook begin waaraan 18 lede deelgeneem het. Een van die kompetisies was om steenkool-ciabatta brood en spekkonfyt te maak.
Die VLU nooi belangstellendes om hul volgende vergadering op Woensdag 15 November by te woon.
Vir meer inligting bel Catrien Koekemoer by 071-155-0848 of Elsa Jonker by 084-600-6012. Besoek ook die Vrystaat Vroue Landbou Unie webtuiste om meer van die organisasie se werk en doelstellings uit te vind.