Op die geskiedkundige Voortrekkerplaas Doornkloof buite Lindley hang die vlae halfmas ter ere van die terreinbestuurder, wat die naweek tydens ’n reddingspoging sy lewe verloor het.
Chris Giliomee (59) is Vrydagaand (04/02) deur vloedwater meegesleur nadat hy koorleerlinge van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem wat daar kampeer het na ’n hoërliggende gebied op die plaas laat verskuif het.
Swaar reën het sedert die middag oor die gebied uitgesak en Giliomee het omstreeks 22:30 gaan vasstel of die kinders nog veilig is. Hy is tydens die reddingspoging deur ’n massa water van die Sterkspruit op die plaas meegesleur en het verdrink. Sy lyk is ná ’n soektog gevind.
Nadat die dood van Giliomee bekend geword het, het medelye van oraloor op die sosiale media ingestroom.
“Die dood van Chris is iets onbeskryfliks, ek kan dit nie in woorde verwerk nie,” sê Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat.
“In die afgelope vier jaar dat hy die plaas bestuur het, het hy homself onmisbaar gemaak.”
Giliomee word beskryf as ’n liefdevolle, ondersteunende en knap gesinsman met ’n passie en liefde vir die geskiedenis, kultuur en kinders.
Hy word deur sy vrou, Jackie, ma, Mariana Giliomee (79), en familie oorleef.
Teen druktyd was geen begrafnisreëlings nog bekend nie.
Die koorlede is ongedeerd en veilig tuis, en die Doornkloof-terrein is intussen ontruim. Die Hoërskool Witteberg het op sy Facebook-blad die breë gemeenskap en die boeregemeenskap van Lindley hartlik bedank vir bystand om die kinders tydens die vloedramp na veiligheid te bring.
Die vloedwater het groot skade aan geboue en strukture op die Doornkloof-terrein aangerig.