’n Saak van brandstigting word ondersoek nadat ’n brand in een van die Dihlabeng-munisipaliteit se pakhuise ontstaan het.
Volgens Tshidiso Maitse, munisipale woordvoerder, is owerhede op Dinsdag 18 Januarie net voor 05:00 na die brandtoneel in Commissionerstraat, Bethlehem, ontbied.
Brandbestryders het gespook om die brand onder beheer te bring. Die omvang van die skade aan die gebou beloop glo meer as ’n miljoen rand.
“Ons is egter baie dankbaar dat daar geen beserings of lewensverliese was nie,” sê Maitse.
Raadslid Isoldé Laesecke het die brand bevestig en sê dat noodsaaklike voorraad soos waterpype en belangrike dokumente van die munisipaliteit in die brand verwoes is.
Sy het ook bevestig dat geen brandkraan op die perseel is nie. Brandbestryders moes van ’n aangrensende perseel se brandkraan gebruik maak om die vuur te blus.
“Brandblussers op die perseel is verby hul vervaldatums, en die brandbestryders se toerusting en beskermingsklere is in ’n gehawende toestand,” sê Laesecke.
“Dit is onaanvaarbaar en die probleem moet opgelos word.”
Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van brandstigting ondersoek word.