Die jaar 2022 het teen ’n verbysterende tempo verbygesnel.

Covid-19 het vir seker 2020 en 2021 grootliks ontwrig, dus was 2022 die jaar van terugkeer na “normaal”.

Die jaar het egter verrassings opgelewer, met verskeie onvoorsiene gebeure, insluitende die oorlog wat tussen Rusland en Oekraïne uitgebreek het.

Dit het ons almal se besighede en lewe ingrypend geraak, met veral drastiese stygings in die prys van brandstof en kos. Daarmee saam het ons verskeie ontwrigtings plaaslik beleef, veral met die verskaffing van elektrisiteit en water.

Om dit alles te kroon, ervaar ons politieke onstabiliteit weens die plasing van die Suid-Afrikaanse president in ’n staat van beskuldiging.

Ons het egter almal ’n keuse: Óf ons laat toe dat al hierdie gebeure ons negatief stem en ons hoop laat vervaag, óf ons pak dit aan soos ’n kampioen.

Arthur Ashe, ’n bekende tennisspeler in die 1960’s en 1970’s, het die volgende raad gehad vir mense wat soos ’n kampioen wil dink en optree: “Begin waar jy is. Gebruik wat jy het. Doen wat jy kan.”

Ons Suid-Afrikaners is bekend vir ’n kampioen-ingesteldheid – ons benadering tot die lewe geskoei op: “Niks sal ons onderkry nie”.

Ek verkies hierdie houding, en ek waardeer dit van elkeen wat só dink en doen.

Ek salueer daarom julle, ons produsente en kliënte, graag vir jul kampioen-ingesteldheid en bedank julle vir volgehoue ondersteuning aan VKB.

Ons lig ons hoed vir elkeen van julle. Sonder jul besigheid het VKB nie ’n bestaansrede nie.

Ons wens julle ’n baie geseënde Christusfees toe, en ons bid dat julle ’n voorspoedige 2023 sal beleef.

Mag julle elke gebeurtenis in 2023 soos ’n ware kampioen aanpak en oorwin. In Christus is ons almal kampioene.

Seën vir julle!

PG Strauss

Besturende direkteur, VKB-groep

You need to be Logged In to leave a comment.