Virus vel nie ’n doodsvonnis nie

Die uitbreek van bek-en-klouseer in die land het die landboubedryf laat steier, maar hoe raak die siekte mense?.


Die uitbreek van bek-en-klouseer in die land het die landboubedryf laat steier, maar hoe raak die siekte mense?

Die virus hou geen bedreiging vir mense in nie, sê dr. Francois Maree, direkteur gemoeid met oordraagbare siektes, biologie en navorsing aan Clinglobal.

Ook nie die vleis van diere wat besmet was, hou gesondheidsgevare in nie.

Bek-en-klouseer is uitsluitlik ’n dieresiekte en moenie met die menslike siekte hand-voet-en-mond­siekte verwar word nie.

Die bek-en-klouseer-virus is een van die aansteeklikste virusse wat aan die mens bekend is en word met die maselvirus vergelyk, sê Maree. Hy sê navorsing in buffels en beeste wys dat een besmette dier tussen sewe en 23 ander met bek-en-klouseer besmet.

Besmette diere het gewoonlik sere aan hul snoet, in die bek, aan die tong en aan die hoewe.

Beeste wat met die virus besmet was, of in kontak met besmette diere was, mag slegs ná ses weke geslag word – en dan ook net indien hulle geënt was.

Volgens die riglyne van die World Organisation for Animal Health (WOAH) word die afval, kop en pote van diere wat bek-en-klouseer gehad het (of in kontak met siek diere was) tydens slagting vernietig om te verseker dat geen kans bestaan dat die virus verder versprei nie.

Maree verduidelik dat die pH-vlak in spierweefsel verlaag wanneer die bees vrek en rigor mortis intree, en dit vernietig onmiddellik die virus. Die afval, kop en pote word vernietig omdat dit nie uit spierweefsel bestaan nie.

Diere met gesplete hoewe – beeste, skape en ander kleinvee, varke en wildspesies – kan met die virus besmet word en dit aan ander spleethoewiges oordra. Sebras, perde en donkies word nie deur die siekte geraak nie.

Maree sê die virus het ’n inkubasie­tydperk van een tot 14 dae, en die gevaar van verspreiding by diere in die subkliniese fase wanneer die dier reeds besmet is maar nog nie simptome wys nie, is dan groot. Hoe laer die aanvanklike viruslading was, hoe langer kan die inkubasietydperk duur.

Hy sê die virus kan tussen sewe en 14 dae buite ’n dier se liggaam oorleef, afhangende van omgewingstoestande.

“In Afrika, waar daar baie sonskyn is, sal die virus gouer vrek, maar dit kan in koue toestande, soos die wintertyd, langer oorleef en versprei.”

Die virus kan aan mense se klere en byvoorbeeld honde oorleef en versprei. Daarom is dit belangrik dat streng bioveiligheidsmaatreëls op plase toegepas word.

Sover bekend was daar nog geen vrektes by beeste tydens die huidige uitbreking nie.

Beeste herstel binne ’n week of twee nadat hulle siek geword het, maar die gevolge by melkkoeie is blywend.

’n Melkkoei se melkproduksie sal nadat sy bek-en-klouseer gehad het vir die res van haar leeftyd laer as verwag wees.


Alet van der Walt

You need to be Logged In to leave a comment.