Dit is Adventstyd.
In hierdie tyd hou ons die oog op die dag dat Christus op pad is. Christus wat die wêreld eenmaal volledig nuut maak, ons inkluis.
Dit is ook ’n tyd waarin die kerk en die wêreld opgeroep word om opnuut ware vrede na te streef. In ’n wêreld waarin bitter min vrede te sien is, is dit juis gelowiges se taak en opdrag om vrede te verkondig en te leef.
Wanneer Paulus uit die tronk die Filippense-brief skryf, dan roep hy ook daardie gemeente op om in vrede met mekaar te leef. Paulus bid in Filippense vir “regte” (heel) verhoudings: regte verhoudings onder mekaar (ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling) en ’n regte verhouding met God (en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees).
’n Mens sou natuurlik ’n “regte” verhouding met die natuur kon byvoeg.
Dit is die prentjie van ware sjalom: van God se alomvattende vredesbestaan, waar verhoudings tussen God, mens en natuur herstel is.
Dié vrede staan direk teenoor die Pax Romana, die vrede van Rome, wat destyds geheers het. Paulus kon selfs oor dié soort vrede getuig terwyl hy oor sy gevangenskap nagedink het.
Ja, die vrede van Kersfees is nie net die blote afwesigheid van oorlog en konflik nie. Natuurlik moet ons ons daarvoor ook beywer en daarvoor bid, maar dit is soveel meer: Om te verlang na God se alomvattende vrede; God se regstellende, regte, geregtige vrede.
Dan om te weet dat Christus daardie vrede is, dit reeds gebring het, en dit nou ook ’n werklikheid laat word in die roeping en gestalte van sy mense.
Wanneer die engele Jesus se geboorte aankondig, dan kom hierdie woord ook sterk deur in hul boodskap. Vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.
Kom dan, ons wat in ’n vredelose wêreld leef, kom ons getuig van die vrede van Kersfees, wat met Jesus se koms ’n werklikheid geword het en vir almal bedoel is.
En kom ons bid die gebed van Franciscus van Assisi elke dag oor ons lewe.
“Laat Heer, u vrede deur my vloei. Waar haat is, laat ek daar u liefde (vrede) bring.”