Inwoners van Viljoenskroon voer nou al meer as sewe jaar lank ’n verlore stryd teen rioolvuil wat die dorp, ’n vleiland en ander natuurlike hulpbronne verswelg.
Só sê Boet Wienand van die dorp se inwonersvereniging.
Hy reken die probleem is so erg dat kinders in die rioolwater swem, beeste dit suip en mense se erwe gedurig oorstroom.
’n Gewilde plaasdam, waar mense gereeld oor naweke gaan ontspan het, is nou ’n rioolput.
Volgens Wienand is die dorp se rioolstelsel ontwerp om 5 000 tot 7 000 mense te bedien, maar volgens onlangse opnames woon 111 000 mense in die gebied.
Wienand sê die eienaars van vee wat op munisipale meentgrond wei, beskadig ook die rioolnetwerk sodat daar drinkwater vir hul beeste kan wees.
Die Mahemsvlei, ’n gebied wat reeds in die vroeë 1990’s tot ’n bewarea verklaar is, is permanent met rioolvuil besoedel. Van daar af vloei dit in die Vaalrivier.
Hoewel herstelwerk nou aan die R59 tussen Kroonstad en Viljoenskroon gedoen word, is ’n deel teen dié pad so oorstroom deur rioolvuil dat die padwerkers nie daar kan werk nie, sê Wienand.
“Kontrakteurs word van tyd tot tyd aangestel om die rioolprobleme op te los, maar dit is ’n hopelose saak.”
Hy sê die kontrakteurs is meestal onbevoeg, en een het ’n gat van 15 m by 15 m gegrawe voordat hy met R15 miljoen verdwyn het.
“Die Moqhaka-munisipaliteit sê die man is bankrot, maar hy het geld gekry vir werk wat nie gedoen is nie.”
Hy reken die dorp is besig om ten gronde te gaan, en sê talle sakelui het al die dorp verlaat omdat die infrastruktuur tot niet gaan.
Volgens Wienand is daar inwoners wat al tot R1 miljoen uit hul sak betaal het om te probeer red wat te redde is.
“Ons doen ons bes, maar alles kos geld. Inwoners herstel self slaggate, maar daar is net nie genoeg geld om uit ons eie sak alles reg te maak nie.”
Wienand sê die dorp sukkel ook gereeld met watertoevoer, en inwoners steek kers op by ander dorpe met soortgelyke krisisse om ’n oplossing te soek.
- Adj.pres. David Mabuza het verlede jaar ingegryp om soortgelyke probleme in Kroonstad op te los, en toe is gesê dat Viljoenskroon se rioolaanleg ook verbeter sal word.