Valentynsdag! Die dag van plastiekrose, rooi hartjies, sjokolade en blomme wat skielik astronomiese pryse bereik bloot omdat dit in blink papier toegedraai is.
’n Dag van oordadige geskenke en goedkoop sentiment, waarop mense die liefde probeer vier; waarop verliefdes en getroudes met ’n effense skuldgevoel hul maat herinner dat hulle eintlik nog van mekaar hou – of van mekaar behoort te hou.
Waarom is ons so versot daarop om hierdie dag te vier? Waarom, te midde van die chaos van die lewe, voel ons skielik verplig om in rye te staan vir ’n teddiebeer met ’n “I love you”-etiket?
Dit is asof ons glo liefde bestaan net as dit in sellofaan verpak is en met ’n oordrewe Instagram-plasing gepaard gaan.
Die Grieke het liefde in vier soorte verdeel: eros (daardie rooiwarm passie), philia (vriendskap en broederskap), storge (familiale liefde) en agape (die hoogste, onselfsugtige vorm van liefde).
Eros kry seker die meeste aftrek op hierdie dag, maar wat van die res?
Hoe sou dit wees as ons vandag eerder ’n geskenk gee aan ’n ou vriend; ’n oproep maak na ’n broer of suster; of ’n bietjie agape uitdeel aan ’n wêreld wat sukkel?
Liefde is mos nie ’n Hallmark-kaart nie. Dit is ’n sweterige hand in joune op ’n slegte dag. Dit is ’n ekstra koppie koffie vir iemand wat te moeg is om te vra. Dit is ’n WhatsApp sonder ’n rede, net om te sê: “Ek sien jou.”
So, vier gerus vandag. Koop die sjokolade. Skryf die boodskap. Onthou egter, die grootste liefdesbewys lê nie in plastiek nie, maar in elke klein, onopvallende daad wat sê: “Ek is hier. Vir jou.”