Vervulling danksy uitdagings

VrystaatKroon het ter viering van Vrouemaand met Stephnie Maree van Bethlehem oor haar rol as vrou in die samelewing. gesels.


VrystaatKroon het ter viering van Vrouemaand met Stephnie Maree van Bethlehem oor haar rol as vrou in die samelewing. gesels

Die 64-jarige Stephnie is oorspronklik van KwaZulu-Natal en hanteer die afgelope 27 jaar die aankope en finansies van hul eie onderneming Rolo-voermengers in Bethlehem.

Stephnie is in Vryheid gebore en het daar gematrikuleer. Ná skool het sy verpleegkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer en sy is met Kobus Maree getroud. Die egpaar het twee kinders, Alwyn (41) en Marni (38).

“My huidige beroep het my gekies, alhoewel ek ’n opgeleide verpleegkundige is, het my lewenspad my in die beroep van aankoper en finansies van ons eie onderneming geplaas. Dit was aanvanklik vir my ’n reuse-uitdaging van verpleegkundige tot ’n administratiewe pos, maar omdat ek lief is vir mense geniet ek die interaksie met kliënte in my huidige beroep. My passie is immers mense en om na hul om te sien.”

Sy weet dat alle vroue daagliks aan verskillende uitdagings blootgestel word. Daarom het sy verskeie ankers wat haar as vrou die balans in die lewe laat hou.

“Danksy my geloof, kinders en kleinkinders verkies ek om altyd die mooi en positiewe in die lewe te sien. Daagliks besef ek ek is besig om in my kinders en nageslag se lewe te belê, en dit is vir my belangrik”.

Dit is vir haar vervullend om terug te gee aan haar gemeenskap, vir dier en mens.

Sy beskou haarself as ’n doodnormale vrou wat baie reguit is en soms kwaai voorkom, maar dit is omdat sy nie onregverdigheid, leuens, bedrog of enige wreedheid teenoor mens of dier duld nie.

Haar leuse is immers, “praat en leef altyd in die waarheid, dan hoef jy nie te onthou wat jy gesê of gedoen het nie”.

Tyd vir ontspanning is daar min, maar sy geniet ’n goeie boek, neem graag foto’s en stap graag in die natuur.

Haar boodskap aan vroue is: “Leef jou lewe voluit en moenie toelaat dat enige iemand ’n demper op jou lewe plaas nie. Onthou ook dat ’n mens nooit te oud is om nuwe dinge te leer nie. ‘Ek kan nie’, mag nooit ’n opsie wees nie”.

You need to be Logged In to leave a comment.