Verval skuil nog onder oppervlak

Die afgelope maand is gereeld berig oor die voortslepende waterkrisis wat deur die meeste dorpe in die Vrystaat ervaar word.


Die afgelope maand is gereeld berig oor die voortslepende waterkrisis wat deur die meeste dorpe in die Vrystaat ervaar word.

Inwoners is dit eens dat dié krisis in die afgelope jaar vererger het – nie net weens wanbestuur nie, maar ook sabotasie.

Tog lees ’n mens van gemeenskappe oor die land heen – en veral in die Vrystaat – wat hande vat om in hul omgewing ’n verskil te maak.

Dit is indrukwekkend om te sien hoe netjies en skoon dorpe ná ’n gewoeker en ’n gewerskaf kan wees.

Die dankbaarheid is groot vir individue en sakeondernemings wat die bul by die horings pak om dorpe se voorkoms te verbeter, en dit is verblydend dat sommige van die munisipaliteite hul samewerking gee.

Tog bly die uitdaging groot. Hoewel alles op die oog af mooi en netjies vertoon, is vervalle infrastrukture, ’n gebrek aan krag- en watertoevoer en gebrekkige riolering steeds ’n werklikheid.

Kroonstad se rioolwerke, wat in opdrag van adjunkpresident David Mabuza teen 15 Desember herstel moes wees, werk steeds nie reg nie.

Bethlehem gaan ook gebuk onder verskeie uitdagings, waarvan sabotasie by reservoirs bo-aan die lys is.

Dalk kan belanghebbendes wat by die verfraaiing van dorpe betrokke is, met deurdagte oplossings vir die sigbare én onsigbare probleme vorendag kom.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.