Onlangs het ek vir so 45 minute deur ons eens pragtige dorp gery. Dit nadat ek op sosiale media die kommentaar van ’n geskokte oud-Bethlehemiet gelees het oor hoe die dorp sedert die persoon se laaste besoek verval het.
Ek ry deur die Môrelig-woonbuurt, en die parkie se gras is onmeetbaar lank. Die swaaie hang aan flarde en alles lyk verwese.
Ek ry verder deur die dorp, en moet kort-kort uitswaai vir die slaggate –wat daagliks meer en meer word.
By die Gideon Knobel-brug groei die bossies kniehoogte.
Ek ry ook spesifiek na strate waar ek nie noodwendig sal ry nie, om ondersoek in te stel. Golfstraat, om net een te noem, is ’n? absolute riller.
In Bohlokong, waar ek soms van ons werkers aflaai, lê daar op elke hoek vullis. Die kinders speel vrylik daar en dit hou vir seker ’n? enorme gesondheidsrisiko in.
Dit is dieselfde storie in Bakenpark.
Dít terwyl Eskom ons met beurtkrag looi, wat onvermydelik die ekonomie en Jan Alleman op sy knieë dwing.
Dit is hartseer om alles só te sien vergaan, en ek kan nie help om te wonder waar alles gaan eindig nie.