Lees: Spreuke 3:5
Plaas jouself in dié man se skoene, nadat jy die teksgedeelte gelees het.
In ’n Wilde Weste-verhaal word daar van ’n man vertel wat deur ’n bepaalde woeste woestyn geswerf het. Hy het vir ’n paar dae in hierdie woestyn rondgeswerf, en sy waterbottel was dolleeg en daar was geen hoop om binne die volgende 200 km water te vind nie.
So met sy rondswerf, kom hy op ’n waterpomp af. Aan die waterpomp was ’n bakpoeierblikkie met ’n stuk bloudraad vasgemaak en binne-in die blikkie was ’n briefie – vergeel met die ouderdom. Duidelik ’n briefie wat daar geplaas is jare gelede.
’n Briefie wat soos volg gelui het: “Hierdie pomp werk. Dit werk al die laaste 30 jaar. Dit moet net gevoer word. Onder die groot klip regs van die pomp het ek ’n bottel met water in die koelte met die prop na bo begrawe. Gooi eers die helfte van die water stadig in die pomp sodat die wasters kan week. Gooi dan die res in die pomp vir ’n vale en jy sal water kry om te drink. Vertrou my. Wanneer jy jou dors ten volle geles het en jou waterbottel volgemaak het, maak die bottel weer vol en begrawe dit in die koelte onder die klip, prop na bo, vir die volgende dorstige wat hier verby mag gaan. Geteken, Desert Pete”.
Onder aan die brief was ook ’n naskrif: “Moet asb. nou nie die water uit die bottel drink nie, anders gaan jy niks uit die pomp kry nie.”
Die vraag is: Sou jy Desert Pete vertrou het?
Die verhaal stop nie hier nie. Daar word vertel dat die man gedoen het wat die briefie gesê het. Hy het Desert Pete vertrou en al die water gekry wat hy nodig gehad het en selfs nog meer.
Vertrou ons op die Here soos die man op Dessert Pete vertrou het?
De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.