Verslae, maar verlig

Die vreugdevolle oorwinning van die Hoërskool Trio se eerste krieketspan die naweek het ’n skrikwekken­de nadraai gehad toe die skoolbussie waarin die spelers gereis het, omgeslaan het.

Die Hoërskool Trio se bussie, wat met die eerste krieketspan van Bloemfontein na Kroonstad onderweg was, nadat dit Saterdag (04/02) omstreeks 19:00 buite Welkom omgeslaan het.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die vreugdevolle oorwinning van die Hoërskool Trio se eerste krieketspan die naweek het ’n skrikwekken­de nadraai gehad toe die skoolbussie waarin die spelers gereis het, omgeslaan het.

Die bussie, wat van Bloemfontein na Kroonstad onderweg was, het Saterdag (04/02) omstreeks 19:00 sowat 10 km buite Welkom omgeslaan.

Die agt krieketspelers en busbestuurder Piet de Wet het ligte beserings opgedoen.

Drie spelers, CJ Taljaard, BJ Pelser en Myburgh Jacobs, is vir vleiswond-behandeling na die Welkom Mediclinic gehaas. Die res van die spelers, asook De Wet, is in die Kroon Netcare Hospitaal behandel en is reeds ontslaan.

Volgens De Wet het ’n motor die bussie op die Welkom-Kroonstadpad in die linkerkantse baan teen ’n hoë spoed verbygesteek.

Die motor het rem getrap toe ’n ander motor in die regterbaan na die linkerbaan wou wissel, en het die skoolbussie aan die linkerkant getref – waarna die bussie omgeslaan het.

“Namens die skool, personeel, leerlinge en ouers wil ons ons dank uitspreek vir al die liefde, gebede en ondersteuning wat ons Trio-familie van die groter skolegemeenskap ontvang het,” sê Hendré Kachelhoffer, hoof.

“Ons is innig dankbaar dat die insittendes net geringe beserings opgedoen het.

“Sondag het ek die drie seuns wat ernstiger beseer is, en steeds behandeling moes ontvang, besoek – en het verneem dat hulle ook binnekort ontslaan sal word,” bevestig hy.

Die kragmeting Saterdag was Trio se derde wedstryd vir die krieketseisoen, en die span het die Hoërskool Fichardtpark met 103 lopies geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.