Stefan de Bruin van Bethlehem spog met ’n indrukwekkende langspeelplaat-versameling, en sy kennis oor musiek en sy versameling is verstommend.
“Ek het nou so 1 000 langspeelplate wat ek oor die jare heen versamel het en beplan nie om te stop of af te skaal nie,” sê hy.
De Bruyn (43) is in Carolina gebore en het in Bethlehem grootgeword en skoolgegaan.
Hy is die afgelope 12 jaar by die Eureka-apteek in die dorp werksaam.
Sy passie en liefde veral vir Afrikaanse musiek is hoofsaaklik hoe die versameling ontstaan het.
Op sewejarige ouderdom het hy sy eerste langspeelplaat, van die sangpaar Randall en Koba Wicomb, self gekoop.
Die misterieuse gemaskerde kitaarspeler bekend as die Kavalier se plaat het hy vir sy agtste verjaardag ontvang, en daarvandaan was die spreekwoordelike koeël deur die kerk. Die musiekgogga, of eerder langspeelplaatgogga, het gebyt.
“Ek het plate aangekoop en as geskenke ontvang totdat die langspeelplaat van die mark af verdwyn het, waarna ek natuurlik kassette en CD’s aangekoop het,” sê De Bruyn.
Hy onthou in 1998, die jaar nadat hy matriek voltooi het, was daar ’n insetsel op televisie oor hoe langspeelplate op CD’s uitgereik word. De Bruyn het besef dat langspeelplate heel moontlik baie skaars sou word en het daar en dan besluit om soveel moontlik daarvan te bekom.
Hy het elke denkbare pandjieswinkel besoek op soek na langspeelplate, veral Afrikaanse plate, asook kortspelers – beter bekend as “seven singles”.
Hy het selfs ’n advertensie in die koerant geplaas dat mense hom moet kontak indien hulle plate het wat hulle wil verkoop. So het hy deur aankope en skenkings sy hande op vele skatte gekry.
In 2001 het De Bruyn ’n ou grammofoon aangeskaf en ook grammofoonplate begin versamel. Tussen sy soektogte na langspeelplate deur het sy paaie met verskeie musiekkunstenaars soos wyle Jurie Ferreira, Min Shaw, Al Debbo, Jimmy Stone en ander gekruis en het hegte vriendskapsbande ontstaan.
Sy reuse-versameling bestaan vandag uit Afrikaanse, klassiek, country, pop, Christelike musiek en verskeie ander genres.
De Bruyn sê toe langspeelplate ’n paar jaar gelede weer mode geraak het, kon hy vir hom ’n behoorlike platespeler aanskaf waarop hy na sy gunsteling-plate kan luister.
Hy is by verskillende langspeelplaat-versamelaarsgroepe op die sosiale media betrokke waar lede onder mekaar plate uitruil of verkoop.
“Daar is nou eenmaal iets unieks aan ’n plaat, en die klank van ’n plaat is eg en nostalgies.
“Die kunswerke op die omslae, die hele interaksie met die musiek en plaat wanneer ’n mens dit speel, dit als is ervarings wat geen ander medium van musiek ’n mens kan bied nie.”
Oor die vraag van wat sy gunsteling-plaat is, moet hy mooi dink.
“Dit is moeilik om te kies, maar ek reken dit is heel moontlik die Die singende beesboer van Charles Jacobie”.
Hoewel hy erken hy het eintlik nie meer so baie plek om sy plate te bêre nie, gaan dit hom beslis nie verhoed om nog te versamel nie.
“Dalk klein ’n bietjie afskaal, maar nie ophou nie.”