Vermiste meisie veilig

’n Skoolmeisie van Bethlehem wat vermis was is veilig, ongedeerd en is met haar pa herenig.


’n Skoolmeisie van Bethlehem wat vermis was is veilig, ongedeerd en is met haar pa herenig.

Chrismari Kriek (17), ’n leerling aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem wat sedert die naweek vermis was, is op Maandag 25 November net ná 15:00 gevind.

Chrismari het Vrydag spoorloos verdwyn uit die huis waar sy en haar ma, Mari Muller, gewoon het. Muller is onlangs oorlede.

Die omstandighede rondom Chrismari se verdwyning is nie bekend nie.

Die Bethlehem-polisie se die eenheid vir gesins­geweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het bevestig dat Chrismari ongedeerd terug by die huis is.

Sy het haar in die teenwoordigheid van haar pa, Christo Kriek, by die polisie aangemeld.

Die gemeenskap van Bethlehem en omgewing was in rep en roer nadat dit bekend geword het dat Chrismari verdwyn het.

Sy was sy Vrydag omstreeks 21:30 nog in haar kamer van die woning waar sy en Muller gewoon het. Hester Pelser, wat ’n gedeelte van die huis huur, het dit bevestig.

Volgens Chrismari se pa het hy haar Vrydag tussen 17:00 en 18:00 besoek om reëlings te tref.

Sy sou van die naweek af by hom gaan bly het.

Chrismari het dit toe aan haar pa laat blyk dat sy haar ma se besittings wou oppak, en hy het haar versoek gerespekteer.

Saterdag omstreeks 06:20 het Christo ’n boodskap ontvang dat Chrismari nie by die huis is nie.

Hulle vermoed sy het tussen Vrydag om 22:00 en Saterdag om 06:00 vermis geraak.

Die veiligheidskameras in die hoofslaapkamer van die huis was ontkoppel en die geheue is uitgevee, wat tot groot kommer oor die rol daarvan in Chrismari se verdwyning gelei het.

Die polisie het Sondag ’n verklaring uitgereik waarin hulle die publiek versoek om op die uitkyk vir Chrismari te wees.

Christo is dankbaar teenoor die polisie se ondersoekspanne, sekuriteitsfirmas en die Oos-Vrystaatse gemeenskap vir hul ondersteuning en hulp om Chrismari op te spoor.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.