Ons lewe in uitdagende tye. Tussen politiek en water- of kragkrisisse gaan dit swaar – om nie eens van persoonlike uitdagings te praat nie.
Die mensdom voel moedeloos en sukkel om kop bo water te hou.
Dus is dit belangrik om gereeld dinge te doen wat jou siel voed en die gemoed ligter maak.
Ontspanning is van kardinale belang, en dit was opmerklik op die musiekfees in Kroonstad die afgelope naweek. Oud en jonk het die koue trotseer vir ’n bietjie vermaak.
Mense is uitgehonger vir goeie vermaak en vind dit nodig om die siel in moeilike tye te voed.
Volgens die gehoor het die groep musikante een van die ongelooflikste klassiekemusiekuitvoerings tot nog toe in die NG kerk Kroonstad-Noord gelewer.
Musiekliefhebbers is van oraloor getrek om in dié sandsteenkerk met besonderse akoestiek na musiek van hoogstaande gehalte te luister. Musiek wat ’n mens vat na ’n plek ver van die alledaagse probleme.
Die musiekuitvoering is goed ondersteun, selfs deur besoekers van naburige dorpe, wat weer ’n bewys is dat daar ’n behoefte aan vermaak is.
Lig jou siel in die moeilike tye deur ’n punt daarvan te maak om plaaslike vermaak en kunste te ondersteun.
Dit is goed vir hulle en vir jou.