Die maatstaf waarmee die meeste dinge in die lewe gemeet word, is natuurlik: is iets goed, of is dit sleg.
Dit dien as maatstaf vir hoe mense die lewe ervaar, sien, beleef – die wêreld en sy probleme en ons daaglikse bestaan. Hiermee saam natuurlik elke mens se koppeling en uitgangspunte, of dit waarmee hulle kan of wil identifiseer.
Nou, die soort mense met hul eie uitgangspunte is die mense wat hulself siende blind laat grynslag in die spieël en hulself stilweg gelukwens met hul eie soort intelligensie en visie van hoe die wêreld en mense moet wees.
Soos Ted Bundy dit opsom: “Society wants to believe it can identify evil people, or bad or harmful people, but it’s not practical. There are no stereotypes.”
Om ’n ingeligte besluit te neem, lees ek deesdae wyd vir verskeie redes. Die grootste rede is dat ek lankal besef het daar is ’n grysgebied tussen die twee pole van reg en verkeerd. Dit is juis daar in die grysgebied waar die waarheid versteek word, in die hoop om ontdek te word.
Dit verg inspanning, wilskrag en nederigheid om vooroordele oor ’n saak, iemand of ’n situasie te kan bedink, beredder of verander om by die waarheid uit te kom. Dit is daarom soveel makliker om net te bly by die narratief wat gemaklik inpas in die eie klein denkwyse en wêreld wat iemand as korrek ag.
Deesdae is dit baie maklik om inligting van die een of ander nuusblad, blog of nuuswaardige mens of organisasie van jou keuse aan te haal as die waarheid. As daar debat kom of vrae gevra word, is dit so maklik om met kru redenasies na veroordeling – waarin iemand, ’n saak, ’n organisasie of ’n situasie afgekraak en verneder word – oor te gaan.
As die lewe maar so eenvoudig was soos wat die sosiale media, die media of jou gunsteling-glanspersoonlikheid dit soms afmaak.
Terwyl ek hier sit en my gedagtes neerpen, besef ek die skurk in die verhaal kan wel ’n skurk wees, maar die teenpool, of dan die goeie mens, kan net so onderduims wees.
Dit is seker die gedrag van die mens wat die lewe so kompleks en interessant maak.
“Public relations specialists make flower arrangements of the facts, placing them so the wilted and less attractive petals are hidden by sturdy blooms,” het die skrywer Alan Harrington gemeen.

