Twee bekendes in die vermaaklikheidsbedryf, afkomstig van die hartjie van die Noord- en Oos-Vrystaat, was nog die naweek te sien in die musiekblyspel Die kaplyn, wat die afgelope maand in die AfriForum-teater in Pretoria op die planke was.
Akteur Abel Knobel (29), ’n boorling van Bethlehem, en sanger Carmen Basson (24) van Kroonstad hethul buiging saam op die verhoog gemaak.
Die gewilde musiekblyspel is ’n oorlogsverhaal wat in die 1980’s afspeel en handel oor die Suid-Afrikaanse weermag. Dit volg die vrese en pad na vergifnis van genl. Ben Joubert en sy twee seuns, Ben Junior en Ruan, wat albei in 1980 vir een van die Suid-Afrikaanse weermag se elite-eenhede, die 1 Valskermbataljon, gewerf is.
Teatergangers is herinner aan die oupas, pa’s en seuns wat helde was en dit wat hulle opgeoffer het om hul land te dien, en dat alles nie tevergeefs was nie.
Die rol van Ruan Joubert is deur Knobel vertolk en Basson het die rol van die humoristiese karakter Dezi gespeel.
Knobel was onlangs in die sepie Binnelanders as ’n bekende krieketspeler te sien, en het saam met die aktrise en oud-Bethlehemiet Marijke Coetser (Maryke Beltrame in Getroud met rugby) in die kykNET-kortrolprent Ompad op die kassie verskyn.
Basson is ’n finalis van die TV-reeks Die kontrak. Sy het haar buiging op die kassie gemaak as finalis in die kompetisies The Voice in 2018 en Maak my famous in 2020. Die sanger se eerste enkelsnit, “Mis my”, is ook uitgereik en is op verskeie musiekstromingsplatforms beskikbaar.
Basson was tot onlangs nog ’n onderwyser aan die Hoërskool Trio, maar het die beroep vaarwel toegeroep toe sy vir haar rol in Die kaplyngekies is.