Lees Matt. 18:21-35.
Onthou jy vir Sibongile Mani? In 2017 het sy “per ongeluk” R14 miljoen in haar bankrekening ontvang en vinnig R818 000 daarvan uitgegee. Sy is gevra om die geld terug te betaal. Maar sy kon nie. Dit sou meer as 20 jaar neem, as sy elke maand R8 000 terugbetaal het.
Stel jou voor haar skuld is net afgeskryf. Sy loop ’n vry mens weg. Sy kan aangaan met haar lewe, skuldvry.
Dit is wat Jesus in hierdie gelykenis op die tafel sit. Die gelykenis leer ons hoe vergifnis werk, maar meer belangrik: hoe God werk.
In Matt. 18:21-35 skryf die koning ’n slaaf se skuld af.
Dit is wat God vir ons doen. Hy skryf ons skuld af, die skuld vir ons sonde en ongehoorsaamheid. Jesus sterf aan die kruis om ons skuldvry te maak.
Die slaaf, weer, het nie dieselfde barmhartigheid teenoor sy medeslaaf betoon nie. Hy laat die een wat hom geld skuld in die tronk gooi.
Die koning trek toe sy besluit terug, omdat die slaaf nie dieselfde gedoen het met sy medeslaaf nie. Waar vergifnis nie deel van jou lewe raak nie, trek jy ’n streep deur die vergifnis wat die Here gee.
Dit is ook ’n kant van God waarmee ons rekening moet hou. Hy kan die massiewe skuld van ons sonde afskryf, maar as ons nie soos Hy vergewe nie, dan maak ons sy vergifnis ongeldig. Dan bly die toorn van God op ons.
In Matt. 18:35 lees ons: “So sal My Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”