Die nuutste brandstofpryse wat vir ons wink laat verseker die man op straat se keel effens toetrek. Die vooruitskatting is dat die petrolprys in Junie met minstens R3 kan verhoog.
Nodeloos om te sê: Dit is absoluut angswekkend. Die styging beteken ook dat alles om ons hierdeur beïnvloed gaan word.
Dit is die gemiddelde huishoudings wat dit die meeste aan hul sak gaan voel. Dié gedagte laat ons salaristrekkers met heelwat minder slaap en meer kwellinge.
Onlangse statistieke het getoon dat die man op straat se salaris, soos die spreekwoordelike gesegde lui, van die einde van die maand tot einde van die aand hou. Dit is 80% van salaristrekkers se werklikheid.
Ons is nog verlam deur ’n verwoestende pandemie wat baie letsels gelaat het, en nou word ons weer deur ’n petrolprys gekniehalter. Dit is die een skok op die ander.
Dan vererger oorloë en rampe die duistere situasie.
’n Mens kan nie help om te wonder wat word van al ons belastinggeld en petrolheffings wat aangewend moet word vir die instandhouding van paaie, waarvan die toestand daagliks versleg nie.
Mense spook en spartel om te oorleef en bevind hulle in ’n web van min geld en baie skuld ter wille van oorlewing.
Dit is ’n bose kringloop wat ons dieper insuig, teen ons wil.