“Ons doelwit vir die rugbyseisoen was om in ’n eindstryd te speel, en daarvoor het ons hard gewerk. Dit is egter ’n voorreg om te kan sê ons het daarin geslaag, om in ons skool se eerste bestaansjaar twee afsonderlike ligas te wen. Ons is opreg dankbaar vir ’n wonderlike seisoen,” sê Quintin Geldenhuys, een van Trio se rugbyafrigters.
In sy mees onlangse sege het die Hoërskool Trio die Shimla-liga van die Kovsies se streekkampioenskap gewen toe hy die Hoërskool Jim Fouché Saterdag (27/08) in ’n epiese eindstryd op Shimlapark in Bloemfontein met 22 – 19 verslaan het.
Die geleentheid is die eerste keer in drie jaar weer deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied.
Trio het weer, soos in die Griffon-skoleliga toe hy die Hoërskool Voortrekker getroef het, nie teleurgestel nie in ’n eindstryd wat naelbyt-oomblikke opgelewer het. Die twee spanne het mekaar van die afskop van die wedstryd af behoorlik die stryd aangesê en teen rustyd was die telling 7 – 0 in Trio se guns.
Trio se Michiel Heyns, wat as speler van die wedstryd aangewys is, was onstuitbaar op die veld en het menigmaal deur ’n paar verdedigers losgebreek en groot opwinding veroorsaak.
Conrad Hattingh, Trio se kaptein, het van voor gelei en boonop die wendrie aangeteken net voordat die eindfluitjie geblaas het.
“Ons het ’n wonderlike rugbyseisoen beleef en wil graag vir ons afrigters en ondersteuners baie dankie sê, dit beteken vir ons ongelooflik baie,” sê Hattingh.