Veelsydigheid gewys

Dit is min dat jy ’n jongman wat in akademie, sport en kultuur uitblink raakloop, en wat boonop die trekklavier op gehoor met gemak kan speel.


Dit is min dat jy ’n jongman wat in akademie, sport en kultuur uitblink raakloop, en wat boonop die trekklavier op gehoor met gemak kan speel.

Vir die goed gebalanseerde Cobus Labuschagne (16), oudste seun van Cobus en Hanlie Labuschagne en ’n leerling aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, is die speel van die trekklavier soos tweede natuur.

“Tydens die Covid-19-pandemie, toe ek 12-jaar-oud was, het my ouma, Christa Henning Z my ma, Hannali, se ma Z my die trekklavier leer speel.

“My ouma is die enigste musikale familielid en ek het vinnig aanklank by die instrument gevind.

“Dit was nie maklik nie maar soos met alles, hoe meer jy oefen hoe makliker word dit,” sê Cobus.

Dié boorling van Gauteng wat nou ’n Vrystater is, sê hy het klavierlesse in die laerskool tot in gr. 7 geneem.

Hy reken dié agtergrond het vir seker ’n bydrae gelewer om die trekklavier onder die knie te kry.

Hy speel net op gehoor, maar dit kom baie natuurlik en gemaklik vir hom.

Buiten dat dit vir hom ’n eer is om een van die moeilikste instrumente te kan speel, geniet hy dit terdeë om almal vanaf die viswaters tot interskole-kragmetings met sy instrument te kan vermaak.

Cobus het ’n Parrot-trekklavier by ouma Christa geërf, maar hoop om eendag sy eie Roland- of Hohner-trekklavier te besit.

Buiten vir die musiek waarmee hy almal vermaak, is Cobus ook ’n veelsydige sportman wat hom graag op die rugbyveld uitleef.

Hy reken daar is min rugbyspelers wat ook klavier speel soos hy.

Dan neem Cobus ook aan krieket, gholf en atletiek deel, is in die top-tien van sy graad en neem ook aan debat deel.

Hy beoog om ná skool homself as rekenmeester of aktuaris te bekwaam.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.