Vasbyters beloon

Dit was die Vrystaters wat weer uitstekend in die matriekeindeksamen gevaar het, met Fezile Dabi tweede onder die tien topdistrikte landwyd, met ’n slaagsyfer van 90,4%, en Thabo Mafutsanyana sewende met 87,3%.


Dit was die Vrystaters wat weer uitstekend in die matriekeindeksamen gevaar het, met Fezile Dabi tweede onder die tien topdistrikte landwyd, met ’n slaagsyfer van 90,4%, en Thabo Mafutsanyana sewende met 87,3%.

Welgedaan aan die Vrystaat se matrieks, wat weer soos verlede jaar die provinsie se naam hoog gehou het. Dit ondanks uitdagings wat dié spesifieke groep weens die Covid-19-pandemie moes deurstaan.

In 2020 het die groep gr. 10 opgewonde gepak. Dit was die jaar waarin hulle vakkeuses moes doen en ’n nuwe fase van hul skoolloopbaan betree.

Tog was die groep in 2020 net ’n bietjie meer as een kwartaal op die skoolbanke. Die jaar het uitdaging op uitdaging ingehou, met skoolgaan wat via WhatsApp-groepe en aanlyn klasse moes geskied. ’n Geskiedkundige gebeurtenis wat hulle altyd sal onthou.

So het hulle 2021, hul gr. 11-jaar, wat as een van die moeilikste skooljare gereken word, ook met ’n wipplankryery voltooi. Die uitdagings het hulle met volharding, deursettingsvermoë en goeie ondersteuningsnetwerke aangepak.

Verlede jaar was in die algemeen vir almal oorweldigend. Ná twee jaar se afskaal van bedrywighede het dit gevoel of alles gelyktydig gebeur.

Daarom moet ons die matriekklas van 2022 vir hul puik werk en deursettingsvermoë salueer. Julle loop die toekoms vir seker sterker en wyser tegemoet.

You need to be Logged In to leave a comment.