’n Perderuiter van Bethlehem het uitstekend gevaar op die jaarlikse Fauresmith-uithourit, deur die sesde plek in sy afdeling te verwerf.
Die 13-jarige Reynhard van Rooyen, seun van Johan en Rina van Rooyen van Bethlehem, het in die kinderafdeling van die 49ste Fauresmith-uithourit meegeding.
Reynhard gaan skool aan Bethlehem Akademie.
Ruiters en perde van oor die land heen, asook van buite die land se grense, het van 25 tot 27 Junie in Fauresmith saamgetrek.
Dit was Reynhard se eerste deelname aan hierdie spesifieke uithourit, waaraan sowat 252 ruiters vanjaar deelgeneem het.
Ruiters moes die rit, waarvan die roete oor 206 km strek en oor drie dae verdeel word, binne 16 uur voltooi.
Reynhard het op die ouderdom van vyf jaar begin perdry en neem die afgelope twee jaar aan uithouritte deel.
In dié twee jaar het hy aan verskeie klubkompetisies deelgeneem en het hy al, amptelik, bykans 900 km op ’n perd se rug afgelê: in twee 40 km-, ses 80 km-, en een 120 km-uithourit. Die 206 km van die Fauresmith-uithourit is die langste afstand wat hy tot nog toe afgelê het.
“Reynard geniet die perdry terdeë vanweë sy groot liefde vir diere en die natuur. Wat is dan nou beter as om op ’n perd se rug deur die natuur te ry?” sê Rina.
Ter voorbereiding oefen hy elke naweek op ’n plaas buite Bethlehem, en hy is ook lid van die Bethlehem-uithouritklub.
“Vriende van ons, André en Marie Myburgh, en hul dogter, Marjulyn, woon op ’n plaas buite Bethlehem en hulle het Reynhard aan die sportsoort bekendgestel.
“Hy neem ook met een van hul perde, Johrick Charlie, deel. Toe die perdry-gogga byt, was daar geen keer nie. Hy leef vir perdry.”