Die hemel se sluise was onlangs oop oor groot dele van die land, en die aarde is mildelik gevoed.
Wat aan die een kant ’n seën was, het egter ook teëspoed meegebring. Water het asof in riviere in paaie afgestroom, en sakeondernemings en wonings het eweseer skade gely.
Boonop, en dit is die ironie, was daar ondanks die strome reënwater nie ’n druppel water in inwoners van die Dihlabeng-munisipaliteit se krane nie.
Pompe moes weens oorstoming gelig word, en die vlakke van opgaardamme kon eers dae later genoeg styg.
Boonop is beplande herstelwerk rakende die reeds voortslepende waterkrisis in die gemeenskap wel onder moeilike omstandighede aangepak, en watertoevoer is hiervoor onderbreek.
Van die werk was egter glo weens die reën en beurtkrag steeds ’n onbegonne taak.
Boonop moes daar herstelwerk aan ’n elektriese paneel by die pompstasies gedoen word. Te midde van die watertekort wat al ’n kopseer geword het, kry inwoners die indruk daar is nie ’n oplossing vir volhoubare watertoevoer nie. Dit gons op sosiale media, en inwoners is verby die punt om te probeer verstaan waarom krane droog bly.
’n Donker prentjie word vir inwoners van die omgewing geskets.