In 2023 kan Suid-Afrikaners op altesaam 12 openbare vakansiedae reken – met die heel eerste hiervan, Nuwejaarsdag, wat op 2 Januarie reeds aan die beurt gekom het en al agter die rug is.
Lesers wat beplanning vir die nuwe jaar wil doen, kan die volgende in gedagte hou:
- Dinsdag 21 Maart is Menseregtedag in Suid-Afrika. Die Verenigde Nasies se internasionale viering van Menseregtedag val egter eers op 10 Desember.
- Vrydag 7 April is Goeie Vrydag, en saam met Familiedag op die Maandag, 10 April, word die Paasnaweek oor dié vier opeenvolgende dae gevier.
- Op Donderdag 27 April word Vryheidsdag gevier.
- Maandag 1 Mei is Werkersdag.
- Met Jeugdag wat op Vrydag 16 Junie gevier word, is nog ’n langnaweek in die vooruitsig.
- Woensdag 9 Augustus is Nasionale Vrouedag. Internasionaal word dié gedenkdag reeds op 8 Maart gevier.
- Maandag 25 September is Erfenisdag, wat deur baie Suid-Afrikaners as Braaidag gevier word.
- Versoeningsdag, 16 Desember, val vanjaar op ’n Saterdag.
- Kersdag en Welwillendheidsdag, onderskeidelik op 25 en 26 Desember, verseker die laaste langnaweek vir 2023 wanneer dié vieringe op ’n Maandag en ’n Dinsdag plaasvind.