Kobie van Niekerk van die Koppies-tak van die VLU.
Kobie van Niekerk dra hier haar ouma Matie Labuschagne se geborduurde voorskoot, wat dié in 1962 gemaak het. Foto: Verskaf

Die VLU-vroue is bekend vir hul kreatiwiteit, en daarvan was daar geen tekort op die Koppiestak se maandvergadering vir Oktober nie.

Die geleentheid het op 15 Oktober by die Greenlands-feesterrein se saal in Koppies plaasgevind, met die tema “Pak jou tas”.

Lede het die geleentheid gekry om unieke stories uit die geskiedenis te beleef en met mekaar te deel. Die saal is vir die dag in ‘n tydelike museum omskep.

Langs die saal is verskeie grafte uit die Anglo-Boereoorlog te sien, en oorblyfsels van die konsentrasiekamp is steeds sigbaar. Verskeie geskiedkundige uitstallings het deel gevorm van die tydelike museum wat vir die vergadering ingerig is.

Een van die hoogtepunte was die uitbeelding van Emily Hobhouse se grootwordhuis in Cornwall, Engeland.

Volgens Catrien Koekemoer, voorsitter van die Koppiestak, is die oorspronklike huis waarin Hobhouse grootgeword het, deur ‘n Suid-Afrikaner wat anoniem wil bly, gekoop en nou volledig opgeknap na sy oorspronklike Victoriaanse pastorie-styl.

Vandag is dit ‘n volwaardige museum waar besoekers met behulp van moderne tegnologie, soos oorfone en virtuele brille, die geskiedenis op ‘n unieke wyse kan ervaar. Geweerskote, galopperende perde en tonele uit die oorlog vorm deel van hierdie virtuele ervaring.

Daarna het lede ‘n uitbeelding van Genl. Koos de la Rey se woning besoek, asook tonele van die oorlogslagveld en die konsentrasiekampe waar soveel pyn en smart ervaar is. Lede kon selfs deur ‘n nabootsing van ‘n afgebrande plaaswoning stap.

Na afloop van die historiese reis is lede bederf met tradisionele bobotie en geelrys wat in blikborde bedien is – ‘n gepaste afsluiting vir ‘n dag gevul met herinneringe en trots op die geskiedenis van ons land.

You need to be Logged In to leave a comment.