Tyd vir Bieliemieliefees

Reitz is ’n miernes van bedrywighede ter voorbereiding van die VKB Bieliemieliefees vir 2024, waarop honderde besoekers met eg Oos-Vrystaatse gasvryheid ontvang sal word.


Reitz is ’n miernes van bedrywighede ter voorbereiding van die VKB Bieliemieliefees vir 2024, waarop honderde besoekers met eg Oos-Vrystaatse gasvryheid ontvang sal word.

Die 44ste VKB Bieliemieliefees word van 22 tot 25 Februarie in Reitz aangebied.

Die feesterrein se hekke open die Donderdag om 12:00 en sal eers die Sondagmiddag nadat almal opgepak en uitgekuier is, weer sluit.

Die VKB Bieliemieliefees is een van Suid-Afrika se grootste en gewildste jaarlikse landbouskoue, wat deur meer as 20 000 mense besoek word.

Hier word die nuutste landboutoerusting en -tegnologie uitgestal, en vanjaar se aanbod beloof om nie teleur te stel nie, met R60 miljoen se ware wat te sien sal wees.

Boere word ook die geleentheid gebied om in die kudde- en slaglam­kompetisie, die bees­uitstalling, asook die ramveiling, met hul heel beste vee te spog.

Die VKB Bieliemieliefees is nie uitsluitlik vir landbouprodusente nie, en vermaaklikheidskunstenaars wat sorgvuldig uitgesoek is, sal weer vrolikheid vir oud en jonk bied. Hulle is onder andere: Juanita Claassen, Bok van Blerk, Adam Tas, DJ Crazy, Early B, Droomsindroom, Tommy Dell, Barbara Rey, Samantha Leonard, Dodo Nyoka, Eloff en Prop.

Danie Botha, prediker en sanger, sal die VKB Bieliemieliefees die Sondag met ’n dankseggingsdiens afsluit, gehou by die NG Moedergemeente Reitz.

Die volle spektrum van kompetisies sal aangebied word, met deelnemers wat kan meeding met alles van potjiekos, draadkarre en boomversierings, tot boeresport, bulletjie-rugby, netbal, bergfietsry, hengel en gholf. ’n Marathon en nog vele meer sal ook aangebied word.

Deelnemers word aangemoedig om hul staal te toon, met pryse wat op die spel is.

Besoekers aan die VKB Bieliemielie­fees kan perde- en hondevertonings te wagte wees, asook ’n lugvertoning.

Die kleinspan kan uitsien na allerlei vermaaklikhede, wat kameelritte en skattejag insluit. Hulle kan ook stampkarre ry en ’n opwindende pretpark verken. Boonop sal daar diere wees waarmee hulle van naderby kennis kan maak (“petting zoo”).

Besoekers kan na ’n gesellige kuiertent uitsien, asook kosstalletjies met eetgoed na elkeen se smaak. ’n Wye verskeidenheid interessante ware, van hommeltuie tot kamoefleerserpe, parfuum en soetgoed, sal by ander stalletjies te koop wees.

Mense wat die VKB Bieliemielie­fees wil besoek, word aangemoedig om die naweek van 22 tot 25 Februarie in hul beplanning in te sluit en selfs sommer nou reeds slaapplek te bespreek – want as die feesgees eers hoog loop, is dit moeilik vir hulle om huiswaarts te keer.

Vir besonderhede en om alle inskryfvorms in die hande te kry, besoek bieliemielie.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.