Tyd vir asemhaal verras ons nog soms

Dit is Woensdag, Vrouedag, en terwyl ek deur ’n dorp in ons streek ry op pad na ’n byeenkoms ter viering van dié dag, waar ek foto’s moet gaan neem, ervaar ek ’n doodse stilte en kalmte.


Dit is Woensdag, Vrouedag, en terwyl ek deur ’n dorp in ons streek ry op pad na ’n byeenkoms ter viering van dié dag, waar ek foto’s moet gaan neem, ervaar ek ’n doodse stilte en kalmte.

Dit voel buitengewoon stil met die meeste ondernemings se deure wat vir die openbare vakansiedag gesluit is.

Ek ry deur die rustige strate tot by my bestemming, waar ’n groep jong vroue saam met ander vergader om bewusmaking oor vroueregte, geweld en misdaad te skep.

In my enigheid wonder ek hoeveel van ’n indruk hul optog sal laat, aangesien die buurt waardeur hulle gaan beweeg ook buitengewoon stil is.

Tog is hulle vasberade.

Of is mense regtig net moeg en het hulle die rus nodig? Rus hulle liewer op die vakansiedag? Was dit vir hulle ’n bonus om net rustig by die huis te bly en niks te doen nie, wonder ek. Verkies hulle eerder om Vrouedag in die rustigheid van hul eie huis tussen vier mure te vier?

Dit is immers al Augustus en die jaar snel vinniger onder ons uit as wat ons besef. Dit voel amper of elke dag in ’n dag van oorlewing ontaard het. Dit is rof, en soms net oorweldigend.

Dit voel of die lewe op steroïede is met al die verpligtinge en uitdagings.

Tog is dit vroue wat ek oral raakloop op Vrouedag; by die motorhawe is die vrou agter die toonbank baie vriendelik en behulpsaam.

By ’n wegneemete-restaurant stop ek vir middagete en bevind myself die enigste klant in die winkel.

Hier is ook net vroue aan diens, stil maar baie behulpsaam en vriendelik.

Ek groet vriendelik, en met die uitstap besef ek dat die werkende vroue se dag ook rustiger is aangesien die dorp so stil is.

Ek ry terug en is eintlik ook dankbaar dat my dag rustig verloop het en dat ons soms gedwing word om net weer rustig en stil te word.

Tog te dankbaar vir vakansiedae waarop ons ’n bietjie kan asemhaal.

You need to be Logged In to leave a comment.