Twee prominente sakemanne in Bhm sterf

Skokgolwe het deur die Bethlehem-gemeenskap gegaan toe twee prominente sakemanne van die dorp kort na mekaar oorlede is.


Johan Nel

Johan Nel

Skokgolwe het deur die Bethlehem-gemeenskap gegaan toe twee prominente sakemanne van die dorp kort na mekaar oorlede is. Johan Nel (61) van Nels Paneelkloppers en Jan Nigrini (78) wat die Battery Sentrum in Bethlehem besit het, is ‘n paar uur na mekaar oorlede.Medelye en huldeblyke vir die twee sakemanne het van oral oor op sosiale media ingestroom.

Nel is Donderdagaand (11/11), aan hartversaking in die hoësorgeenheid van die Hoogland Mediclinic in Bethlehem, oorlede. Dit nadat hy op Dinsdag (28/09) met Covid-19 gediagnoseer en behandel is. Hy het sedert 1981 die familieonderneming op die dorp bedryf. “Ons gaan hom baie mis, hy was vol energie en moes altyd besig bly. Hy was ‘n kranige sportman wat op sy dae rugby gespeel het, hy het ook uitstekend gevaar as ovaalbaanrenjaer. Johan was lief vir jag en het aan kompetisieskiet, deelgeneem.

Hy was ‘n natuurmens en ons het graag met die boot gaan ski,” sê Muriel sy vrou. Sy sê ook dat sy dankbaar vir hulle twee seuns is en al die personeel by Nels Paneelkloppers wat tydens sy siekte die onderneming bestuur het. Die seuns Jacques en Johann sal die familiebesigheid voortsit.

Nel word deur sy vrou Muriel (59), seuns Jacques (39) en sy vrou, Surina, Johann (36) en sy vrou, Jean-Marie en vier kleinkinders oorleef. Begrafnisreëlings sal later bevestig word. 

Jan Nigrini

Jan Nigrini

Nigrini, is vroeg Vrydagoggend (12/11), aan natuurlike oorsake in sy slaap oorlede. Hy het die Battery Sentrum op die dorp vanaf 1975 tot 2020 bedryf. Sy vrou Babsie Nigrini, is in 2009 in ‘n motorongeluk oorlede. Sy seun Jacques Nigrini sê, sy pa het gehou van die natuur en omdat Jacques geski het, het die gesin gewoonlik in hul vrye tyd, gaan uitspan langs die dam en met die boot gery. Nigrini se roudiens word voorlopig vir Vrydag, 19 November beplan.

Hy word deur sy seun, Jacques (44), en sy vrou, Elsie, en kleinseun, Zandré oorleef. Bethlehem het in die afgelope maande van verskeie groot en prominente sakemanne wat ‘n reuse-impak op die dorp gehad het, afskeid geneem. 

You need to be Logged In to leave a comment.