Twee persone wat glo in die besit was van besittings van ‘n man, wat Woensdagoggend (16 April) in twyfelagtige omstandighede in ‘n huisbrand dood is in Somerset-Wes, is dieselfde middag in die Paarl gearresteer.
Die brand het plaasgevind in die gegoede Briza-woonbuurt omstreeks 03:40 het sers Suzan Jantjies, woordvoerder vir die Somerset-Wes polisie, aan Distrikspos bevestig.
Jantjies sê met polisiebeamptes se aankoms op die toneel was die plaaslike brandweer reeds op die toneel besig om die brand te blus. Die lewelose liggaam van die oorledene is later tussen die puin ontdek.
By verdere ondersoek het die polisie waardevolle inligting bekom en twee persone is tot dusver geïdentifiseer wat glo betrokke is by die ontstaan van die brand. Speurders het onverpoos gewerk en uiteindelik ‘n man en ‘n vrou in Hoofstraat, Paarl gearresteer. ‘n Ingeligde bron na aan die polisie het die arrestasies bevestig. Die oorledene se voertuig is opgespoor deur middel van ‘n motor spoorsnyer en dit is die besit gekry van die twee verdagtes.

‘n Ooggetuie in die Paarl het aan Paarl Post vertel dat sy omstreeks 14:00 iets te ete gaan koop het by die Zomerlust Spar toe chaos losgebars het.
“Ek het by die toonbank gestaan om te betaal en ek het ‘n man by die kassier langs my opgelet wie se bene met spierwit wollerige verbande (gauze) toegedraai was. Hy het ‘n dik pak geldnote in die hand gehad en was besig om baie duur sjokolades te koop. Die verbande om sy bene en die klomp tjoklits wat hy gekoop het, het juis my oog gevang.”
Die ooggegtuie, wat by ‘n nabygelee besigheid werk, het sê die man was nog besig om te betaal toe sy by die winkel uitstap. Die volgende oomblik was alles chaoties.
“‘n Donker kleurige Fortuner het skielik by die eenrigtingstraat langs die parkie en apteek oorkant die Spar opgejaag en ‘n groep gewapende mans met koëlvastebaadjies en met balaklawas op, vermoedelik taakmaglede, het uit die Fortuner gespring en ‘n blanke vrou gegryp. ‘n Polisiewa was ook agter die voertuig.”
Sy vertel verder dat ‘n lid van die taakmag met sy vuurwapen omhoog het toe by die Spar in gehardloop het opsoek na nog ‘n persoon. Nog lede van die taakmag het agterom die Spar gehardloop.
Die ooggetuie vertel dat kort daarna is die man wat langs haar sjokolades gekoop het in boeie uit die Spar begelei is. Die vrou is ook deur die polisie in hegtenis geneem. Volgens die ooggetuie is die man omtrent in sy veertigs en hy dra ‘n bril. Hy het ‘n helderkleurig geruite hemp aangehad.
Kapt Louise du Plessis, woordvoerder vir die Paarl-polisie, het die arrestasies van ‘n 36-jarige vrou en ‘n 44-jarige man bevestig.
Sy sê die verdagtes is vasgetrek deur die Boland honde-eenheid van die polisie, met die hulp van ‘n reservis wat hom voorgedoen het as ‘n gewone inwoner.
“Die twee verdagtes het die slagoffers se paneelwa met verskeie antieke besittings gesteel en probeer om hierdie items te verpand. Die voertuig is deur die ondersoekspan opgespoor en die K9-eenheid is in kennis gestel.
“Die verdagtes is daarna buite ‘n antieke winkel in die Paarl in hegtenis geneem. Hulle sal in die Paarl-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde eiendom en van moord en diefstal van motorvoertuig op die Somerset-Wes-voorval. Die optrede van die reservis en Boland K9-lede het gelei tot die positiewe skakeling met die moordtoneel.”
You must be logged in to post a comment.