’n Rooftog in Mooinooi, Noordwes, het in twee voertuigkapings en ’n oor-en-weer-skietery in die Vrystaat ontaard.
Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het polisielede van Kroonstad op Vrydag 29 April ’n padversperring op die Steynsrus-pad beman toe hulle ingelig word dat ’n Porsche met vyf vermeende rowers in hul rigting op pad is.
Op die polisie se versoek het boere in dié omgewing hul veiligheidskameras dopgehou om die voertuig op te spoor.
Buite Kroonstad het die voertuig die Vredefort-afrit geneem.
Die vermeende roofbende het na Koppies gejaag en probeer om ’n vragmotor kaap. Kort daarna het hulle ’n Toyota RAV4 gekaap.
Die insittendes van die Toyota is uit die voertuig geboender en die Porsche is op die toneel gelos.
Die Porsche is ongeveer ’n jaar gelede in Gauteng gekaap.
’n Ent verder, op die pad tussen Koppies en Sasolburg, het ’n skietery tussen die kapers en die polisie ontstaan voordat nog ’n motor, ’n Volkswagen Polo, gekaap is.
Nog ’n skietery het gevolg, en twee verdagtes is doodgeskiet.
Twee van die drie verdagtes in die Toyota is naby Sasolburg aangekeer, terwyl een gevlug het.