‘Tuiste’ behels meer as net ’n naam

Elkeen van ons wonder soms wat die term “huis” werklik beteken. ’n Huis is veronderstel om jou veilige hawe te wees, daar waar jy rus en vrede vind. Tog is daar huise wat jou angstig maak en ’n beklemming gee, soos sommige hier in ons Afrika.


Elkeen van ons wonder soms wat die term “huis” werklik beteken. ’n Huis is veronderstel om jou veilige hawe te wees, daar waar jy rus en vrede vind. Tog is daar huise wat jou angstig maak en ’n beklemming gee, soos sommige hier in ons Afrika.

So sit en bepeins ek waarom my huis juis hier aan die suidpunt van Afrika is.

Afrika is voorwaar ’n pragtige, fassinerende en komplekse plek. Die “Jekyll and Hyde” van kontinente. Hy beloon en seën sy bewoners soms veelvuldig, maar kan ook net so vinnig straf uitdeel.

As jy egter ’n oomblik stilstaan, besef jy vinnig dit is ook die kontinent van geleenthede, veral as jy bereid is om te waag, te hoop, hard te werk en aan te pas. Hoewel dit nie aldag maklik is nie.

Ek dink aan die mense wat oorsee groener weivelde gaan soek het, wat baie vinnig besef het probleme in hul nuwe land word net in ’n ander formaat verpak.

Daar is ongelukkig nie ’n Utopia in die wêreld nie. Ja, daar is dalk veiliger plekke, daar is dalk plekke met minder korrupsie, maar vir elke plus is daar ’n teenpool; ongeag van waar jy jou bevind.

Daar is min plekke wat so kleurryk is en soveel geleenthede bied soos Afrika. Dit word daagliks weërspieël in haar mense, natuur, kulture, demografie en inhirente kompleksheid wat ’n mens soms hartseer, maar altyd met hoop en verwikkelde opgewondenheid laat.

Ondanks die verval, korrupsie, misdaad en ellende is daar altyd ’n môre, en ’n belofte dat dinge beter sal gaan. Dit het ons voorgeslagte lankal reeds besef toe hulle met durf en daad ’n vesting en huis vir hulself en hul nageslagte hier geskep het.

Dit kan dalk nie rasioneel ontleed word nie, maar jy weet diep binne jou – wanneer jy ’n seekoei hoor blaas, warm reën­druppels aan jou gesig voel en die dag groet saam met ’n visarend wat roep – dat Afrika ons huis is.

Dit kan ons soms oorweldig, maar vul ons ook met ’n dankbare blymoedigheid om dié plek huis te kan noem.

You need to be Logged In to leave a comment.